Geskiedenis van die familie Breedt-Breed-Breet in Suid Afrika
deur Jacobus Breed

Ons familie het 'n ongekompliseerde eenvoudige gesk in SA. Sien die stamboom hieronder : net een stamvader, een paar tweedegeslag-voorouers en dan 7 derdegeslag-kinders(c1 tot c9) met 'n nageslag, wat die familielyne vir die hele familie in SA  vorm, of hulle nou die van met 'n d of t of dt aan die end spel, almal is een familie - hierdie navorsing is hoofsaaklik Giel Breed van Pta s'n wat vir jare met toewyding die kerkregisters en die boedels tot in 1980 landwyd deurgewerk het en vir ons die stamboom opgestel het, groot dank aan hom - Hansie & Cobus het ook aangevul!

In Nederland

Stamvader Jacob, afkomstig van Edam, 'n ou hawestad net noord van Amsterdam arriveer 1742 in die Kaap as amptenaar van die destydse VOC Kompanie. Sy familie in Edam was skynbaar  gesiene mense wat 'n merkbare bydrae tot die openbare lewe daar gelewer het - So was sy oupa en oupagrootjie benewens vele ampte wat hulle beklee het ook albei burgemeester van die stad Edam, en sy grootjie, Jacob Jansz (kort vir Janszoon), is verder vereer vir sy dienste, deurdat sy naam JJBreet met sy huismerk in die gebrandskilderde venster in die Grote Kerk van Edam aangebring is, en hy en sy familie is in die Grote Kerk begrawe ( maar sy naam op sy graf is JJBreed gespel!). Die Grote Kerk is in 1602 tydens 'n brand  byna verwoes en toe haastig weer opgebou, lyk dus van buite onindrukwekkend, maar is nog die grootste ou kerk in Nederland. Edam is vandag klein teenoor ander stede soos Amsterdam, net bekend vir sy kase, maar het sy stadstatus vanwee sy geskiedenis  behou.
 

Grote Kerk Edam                   Grote Kerk Edam


Aan die Kaap

Jacob is toe hier aan die Kaap as amptenaar van die VOC saam met 'n reisgeselskap, een van vele wat die binneland gaan verken het, met die enigste gangbare roete deur die sandveld van die weskus op - die enigste probleem hier was 'n waterskaarste, en so land hulle aan by die derde waterbron langs die roete, nl by die grot en fontein op die plaas van Jacob Cloete, gesiene boer en groot grondbesitter van destyds. Die Heerenlogementgrot is miskien humoristies so genoem, omdat die grot hoër op teen die rant skuilte en 'n goeie uitsig gebied het en aldus so deur die trekleiers gebruik is, terwyl die res v/d trekgeselskap onder by die fontein by die trekdiere moes bly!  Hier het baie bekende mense toe al hulle name op die rotswand aangebring, en hier beitel Jacob ook sy inskripsie uit: JACOB BREEDT - 1747 DEN 25 OCTOBER BIN IK GEKOMEN ALBIJ DE HEER JACOB CLOETE - sy inskripsie het van historiese waarde geword, want dis die enigste wat aangedui het aan wie die plaas behoort het. Cloete het skynbaar 'n dringende behoefte aan 'n onderwyser vir sy mense gehad, hy vind uit Breedt was geleerd, vra hom om te bly, en net daar sien hy dit skynbaar as sy roeping. Breedt bly daar agter, en vir meer as 3 dekades bly hy as onderwyser vir die Cloetes se mense, tot sy aftrede - volgens PL Schotz is baie VOC amptenare weens die skaarste aan onderwysers aan die Kaap so "uitgeleen" deur die VOC. Jacob se dienskontrak is later soos vereis, formeel met Hendrik Cloete, seun van Jacob Cloete opgestel en jaarliks hernu - LW hier en orals hierna teken Jacob sy van as Breedt met 'n dt - miskien 'n samevatting van die 2 spellings van sy grootjie se van in die Grote Kerk? Dit lyk dus of hy 'n nuwe unieke  spelling van die van hier ingestel het want as onderwyser het hy tog seker geweet hoe om te spel! Elk geval, die drie spelvariante met 'n d en t en dt aan die end kom vandag nog hier onder die familie voor, waarskynlik te wyte aan spelfoute in registers sowel as die gebrekkige spel- en taalvermoëns van destyds. Hoe hulle dus ook die van spel, en hoe sterk hulle ookal daaroor voel, dis bewys dat ons almal afstammelinge van hierdie een stamvader Jacob Breedt is.

Einde van die Eerste Geslag

Jacob het dus daar  by die Heerenlogement noord van die huidige Graafwater bly onderwys gee tot sy aftrede in 1773, toe Cloete aan hom die leenplaas Zeekoevallei daar naby oorgemaak het. Daar het hy as vryburger gaan boer, maar slegs vir 2 jaar tot sy dood - ons het afskrifte van sy dienskontrak en sy testament wat op sy sterfbed opgestel is, en uit al sy aksies blyk dat hy 'n baie deeglike mens moes gewees het wat alles vir sy medemens en sy gesin feil moes gehad het. Ongelukkig is hy laat, eers in 1762 getroud met Maria Striegel, dogter van 'n Duitse immigrant Coenraad Striegel, en hulle het toe net 3 kinders gehad - die oudste b1 Anna Margeretha is met Pieter van Zyl getroud, en die jongste b3 met 'n weduwee en dus geen Breedt kinders hier nie, dus net hul b2 Johannes Augustus. getroud met Johanna Maria Venter was toe die enigste tweedegeslag-voorouers. Hulle het wel 12 kinders gehad, maar net 7 seuns met 'n Breedt-nageslag. B2-hulle as veeboere het later na die oosgrens verskuif, en daar saam met hul kinders op leenplase geboer, waar  'n hegte verband met die gemeenskap daar ontwikkel het.

Die Groot Trek

Gevolglik, toe die Groot Trek in 1834 begin, is hierdie familie almal saam, maar dit lyk of b2-hulle daar oorlede is, want hulle word nie in die trekke genoem nie.
Terloops, Gustav Preller meld in sy Voortrekkermense dat die trek die gevolg was van veeverliese en strooptogte deur swartes vanoor die Visriviergrens asook die owerheid se swak politieke beleid, maar andersyds ook weens die drang  na 'n onbelemmerde eie volksontwikkeling was, wat posgevat het - die alternatief was opstand, en daarvoor het hulle as Godvresende vredeliewende mense nie kans gesien nie - dit blyk ook veral uit die beroemde manifes van Piet Retief wat hy op die vooraand van die trek wereldkundig gemaak het. Geen wonder dat die lewe, strewe en dood van hom en sy makkers so 'n rol gespeel het in die ontwaking van 'n volkstrots in die daaropvolgende geskiedenis van die Afrikaners nie.(Twee van die 7 Breedt-broers, nl c2 en c4 met lg se seun d4 en die swaer, c3 se man, is saam met Retief deur Dingaan en sy impi's vermoor, na die verkryging van die stuk grond wat hulle kom koop het - die verlies van die 4 - asook die in Bloed rivier - uit 'n relatief- klein familie voorwaar 'n swaar slag vir die hele familie gewees!

Na Trek

Die pad daarna, kortliks saamgevat is dat die res van die familie daarna saam met die trekke (Veral AH Potgieter) is, deur die ou Vrystaat tot in die ou Wes Transvaal, tot agter die Magaliesberg, toe weer oos op soek na 'n eie hawe, waar die koors hulle gestuit het, en toe noord tot aan die Soutpansberg, waar hulle die Voortrekkerdorpie Schoemansdal,wes van die huidige Louis Trigaardt aangelê het. Ongelukkig moes hulle dit ook weer later prysgee en suidwaarts verskuif - oor al die ontberings tydens al hierdie trekke swyg ons maar. 

In Oënskou
Saamgevat, die eerste Breedts was dus amptenaar/boere daar aan die Weskus-sandveld waar hulle ge-arbei en oorlede is, die tweedegeslag-voorouers boere wat daar aan die oosgrens dood is, die derdegeslag veeboere aan die oosgrens en Trekkers, wat sekerlik baie ontberings moes deurgemaak het. Genoemde faktore het dus daartoe bygedra dat ons familie aanvanklik klein was en stadig gegroei het. Die volgende geslag was skynbaar ook nog boere hier in veral die noordelike provinsies, en  eers daarna landwyd verspreid geraak, soos die verstedeliking en industrialisasie hulle oor die ganse spektrum van beroepe laat versprei en vinniger laat aanwas het - hou in gedagte die verskillende oorloë (David Breed is n voorbeeld) en die konsentrasiekampe waardeur die families ook verliese gely het en hul offers so moes bring.

Vandag
Mens sou ook kan sê dat ons familie ten volle hul aandeel in  die groei en ontwikkeling van ons land en volk en aan die volksgeskiedenis geneem het, en vandag nog steeds oral 'n bydrae maak - meer hieroor later.

Verder het ons al 'n familiebond met 'n eie grondwet, familiewapen en familieregister daargestel, vier familiesaamtrekke hier in die noorde gehou en 'n gedenkplaat vir ons stamvader daar in sy kontrei, by die Heerenlogement gaan onthul.
Ons bede is dat die volgende geslagte van die Breed(t)s  die familie-geskiedenis  verder sal uitbou, veral deur middel van 'n eie webtuiste - mens moet tog weet waarvandaan jy kom en waar jou wortels lê! Mag ons God julle seën in hierdie wonderlike land van ons, so duur deur ons voorgeslagte verkry.